Diana | |
---|---|
Prinses van Wallis, Hertogin van Rothesay | |
Diana, Prinses van Wallis in 1997
| |
Volle naam | Diana Frances Spencer |
Eggenoot | Charles, Prins van Wallis |
Kinders | William en Harry |
Titels | Diana, Prinses van Wallis HKH die Prinses van Wallis Lady Diana Spencer |
Huis | Windsor |
Vader | John Spencer, 8ste graaf Spencer |
Moeder | Frances Burke Roche |
Gebore | 1 Julie 1961; Park House, Sandringham, Norfolk |
Oorlede | 31 Augustus 1997 (op 36); Pitié-Salpêtrière Hospitaal, Parys, Frankryk |
Handtekening |
Diana, Prinses van Wallis (Diana Frances Mountbatten-Windsor,[1] gebore Spencer; 1 Julie 1961 — 31 Augustus 1997) was die eerste vrou van Sy Koninklike Majesteit, koning Charles III. Twee seuns is uit die koninklike huwelik gebore, nl. William en Harry.[2] Sedert haar huwelik in 1981 tot en met haar egskeiding in 1996 het sy as Haar Koninklike Hoogheid die Prinses van Wallis bekend gestaan. Sy was algemeen in die media as prinses Diana bekend, ten spyte daarvan dat sy geen aanspraak op dié titel gehad het nie, synde dit net vir 'n prinses deur geboortereg gereserveer is.
Sy was beroemd vir haar inspirerende liefdadigheidswerk, maar ook vir die skandale wat haar huwelik geteister het. Haar bittere aantuigings van ontrouheid en wreedheid teenoor haar man het in die 1990's baie media-aandag geniet. Baie biografieë, tydskrifartikels en TV-dramas het gevolg.
Sedert haar verlowing aan die destydse prins Charles in 1981 tot met haar dood in 'n motorongeluk in 1997, was prinses Diana waarskynlik die beroemdste vrou ter wêreld. Sy was 'n mode-ikoon, 'n ideale voorbeeld van vroulike skoonheid, bewonder en nageboots vir haar hoëprofielbetrokkenheid by vigs-aangeleenthede. In die laaste jaar voor haar dood was sy ook baie betrokke by die Internasionale beweging teen landmyne, 'n poging wat tot 'n Nobelprys vir Vrede in 1997, na haar dood gelei het.[3]
Gedurende haar leeftyd is daar gereeld na haar as die mees gefotografeerde persoon ter wêreld verwys. Vir haar bewonderaars was Diana 'n rolmodel en na haar dood was daar selfs voorstelle om haar tot sint Diana te verhef. Ander verwys egter na haar lewe as 'n waarskuwing dat 'n obsessie met roem en publisiteit 'n mens uiteindelik kan vernietig.